top of page

CareerClub

Anderkant die grens van matriek
Ons leerders se toekomsdrome is vir PHS net so belangrik soos die matriekslaagsyfer en -uitslae.

Die eerste volwaardige CareerClub vir leerders in die land, net hier by PHS!

 

Wat is die CareerClub en waar het alles begin?

In aanloop tot en tydens ‘n leerder se matriekjaar val die fokus meestal op hoe goed matriek geslaag moet word, maar minder klem word gelê op wat daarná moet gebeur. Die akademiese sy van matriek is die fokuspunt, terwyl die belangrike aspek van verdere studie en beroepskeuse die meeste van die tyd afgeskeep word. ‘n Beroepskeuse is een van die belangrikste besluite wat ‘n leerder in sy/haar lewe sal maak. Die het ‘n enorme impak op elkeen se lewe.

 

Met hierdie in gedagte en PHS se hart dat ons leerders se toekomsplanne vir ons net so belangrik is soos die matriekslaagsyfer en –uitslae, het die skool ondersoek ingestel en navorsing gedoen oor ‘n alles-in-een-fasiliteit wat PHS se leerders ‘n voorsprong sal gee ten opsigte van beplanning en voorbereiding vir die lewe na matriek.

Wat moet wanneer, waar en hoe elke jaar tot en met die matriekeindeksamen in plek wees? Amanda v/d Vyver, opvoedkundige sielkundige van Careerprep en ook verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, is genader en na lang gesprekke en koppe bymekaar sit, het die idee van ‘n CareerClub ontstaan.

Wat bied die CareerClub?

Die PHS CareerClub bied aan leerders toegang tot krities belangrike inligting vir toekomstige loopbaanbesinning in die vorm van ‘n Careerprep webwerf en PHS bronnesentrum waar alle relevante loopbaaninligting deur die gebruik van ‘n unieke wagwoord gevind kan word.

 

Of ‘n leerder verder aan ‘n tersiêre instelling wil gaan studeer, ‘n gapjaar wil neem of onmiddellik die arbeidsmark wil betree, hierdie bronnesentrum bied aan almal volledige ondersteuning.

 

Onder andere:

  • die belangrikheid van Admaths vir sekere kursusse en wat in plek moet wees om te kwalifiseer

  • waar en wanneer om aansoek te doen om Admaths te neem en wat behels die voltydse sentrum

  • PHS vakkeuses en vereistes vir verdere opleiding in die onderskeie tersiêre rigtings;

  • die belangrikheid van Gr 11-punte

  • watter kursusse gemeenskapsbetrokkenheid vereis en hoe leerders vanaf gr 8 tot 12 kan inskakel by projekte

  • verskillende tipes kwalifikasies

  • vereistes vir toelating tot die onderskeie kursusse en wanneer om wat en waar in plek te hê

  • inligting oor kursusinhoud

  • die verskillende tersiêre instellings en watter een om te kies

  • kriteria vir aansoeke

  • hoe, waar en wanneer om aansoek te doen

  • koshuisverblyf en alternatiewe akkommodasie op die onderskeie kampusse

  • inligting oor National Benchmarking Tests (NBT)

  • inligting oor voorbereidingskursusse vir NBT-aflegging

  • beursinligting en waar om aansoek te doen vir studielenings

  • wenke en geleenthede vir GAP-jaar leerders

  • wenke en relevante inligting (voorbereiding vir onderhoude, cv’s en ander) vir leerders wat direk na matriek die arbeidsmark betree

 

Lede van die CareerClub het verder toegang tot ‘n databasis van loopbaan-skadugeleenthede binne die Piketberggemeenskap en onmiddellike omgewing, ondersteuning van ‘n databasis van oud-PHS’ers wat tans studeer of hulself reeds in beroepe bevind, asook ‘n PHS gemeenskapsprojek (Charity begins at Home) waarby leerders vanaf Gr 8 en selfs in die laerskool kan inskakel – laasgenoemde nie net ter verstewiging van hul aansoeke tot tersiêre instellings en die arbeidsmark nie, maar veral ook die vestiging van ‘n lewenslange ingesteldheid van Ek kan en MOET ‘n verskil maak.

 

Lede werk gedurende hul hoërskoolloopbane deur ‘n CareerClub loopbaangids waarin spesifieke temas vir die spesifieke jaargroep uiteengesit is en wat inskakel by inligting op die webwerf.

 

CareerClub fasiliteerders bestaande uit ‘n groep vrywillige ouers sowel as Lewensoriëntering (LWO) onderwysers is opgelei om leerders persoonlik of via e-pos te ondersteun.

 

CareerClub Kapteine (uit leerders vanaf Gr 8 tot 11) is verder opgelei om op voetsoolvlak leiding vir mede-leerders te gee en ook ten opsigte van loopbaanondersteuning met ander skole op Piketberg te skakel en kennis te deel.

Motiveringsessies, netwerkgeleenthede, uitstappies, opedae en inskakeling by nasionale projekte wat leerders se verwysingsraamwerk ten opsigte van loopbaangeleenthede kan verbreed, vorm deel van die CareerClub voordele.

 

PHS se hoërskoolleerders het die eksklusiewe en unieke geleentheid om eienaarskap van hul eie toekoms te neem deur by die PHS CareerClub te registreer.

 

Die wêreld wag om te gebeur!

bottom of page