© 2016 deur Hoërskool Piketberg.

Geskiedenis

'n Trotse tradisie sedert 1846 

Piketberg Hoërskool het ‘n interessante geskiedenis wat uit 1846 dateer – kort na die Groot Trek en lank voor motors en vliegtuie – toe die eerste openbare skool op die dorp onder leiding van ene dr Scholtz, ‘n predikant, gestig is. Die skool is finansieel deur die staat ondersteun, op voorwaarde dat onderrig in Engels moes geskied.

In 1851 was die leerlinggetal 35 onder slegs een onderwyser, in 1869 is ‘n tweede onderwyser aangestel en moes die twee onderwysers op ‘n stadium in een klaskamer onderrig gee. In 1883 slaag die eerste drie leerlinge matriek in Piketberg se openbare skool.

 

Die Anglo Boere-oorlog (1899 tot 1902) het soos op baie ander gebiede ook ‘n invloed op die skool gehad. In 1902 moes die leerlinge die skoolgebou ontruim sodat dit as ‘n hospitaal kon dien en is die kerk tydelik as ‘n lokaal ingespan waar leerlinge onderrig kon ontvang. Om matriek te skryf gedurende hierdie tyd was nie maklik nie – voornemende matrikulante moes om 5vm aanmeld vir spesiale klasse ter voorbereiding van hul matriekeksamen.

 

Gemaklike busse vir vervoer na sport- en kultuuraktiwiteite was daar ook nie. Piketberg was bekend vir sy skitterende kore, en 1909 se koorkompetisie teen Porterville is voorafgegaan deur ‘n twee en ‘n halwe uur reis per verewaentjies tussen dié twee dorpe. Piketberg se koor het (natuurlik!) met die louere weggestap! Voetbal (vandag rugby) is gekompeteer teen Wellington, Moorreesburg, Malmesbury en Porterville, en leerlinge is met waens na die buurdorpe vervoer. Soms het die spelers sommer langs die waens gedraf!

 

Matriekafskeid is in die kerksaal gehou, en van dans was daar geen sprake nie – slegs toesprake en ‘n ete. Later jare is matrieks wel toegelaat om volkspele te doen.

 

Op hul laaste dag in matriek het die meisies wit rokke aangetrek en die seuns is in ‘n pak klere skool toe.

Die sekondêre afdeling van die huidige skoolgebou is in 1915 geopen, terwyl die primêre afdeling in 1935 voltooi is. Hierdie twee afdelings (PHS se Laer- en Hoërskool) is in 1973 met mekaar verbind toe die administratiewe blok opgerig en ingewy is. Die skoolsaal is in 1956 in gebruik geneem, in 1976 is die skool se swembad gebou en in 1981 kon die eerste sportoefeninge en -wedstryde op PHS se eie, nuwe sportterrein plaasvind. Die voormalige koshuis-anneks en later skoolraadskantoor, is vandag die trotse Gr R-gebou.

 

Kasteel- en Leliehof Koshuise het ook deur die jare verskeie metamorfoses ondergaan. Koshuisgangers in hierdie twee wonderlike koshuise sou hul dit vandag skaars kon indink dat daar in 1911 slegs een sementbad was wat slegs op Woensdae vol water getap is. Daar was ook ‘n bad-rangorde! Die onderwysers het die voorreg gehad om eerste te bad, gevolg deur die meisies en dan die seuns – almal in dieselfde water, want water was skaars! Die huidige Kasteel is in 1956 voltooi, en Leliehof in 1962.

 

In 1996 het PHS sy 150 jarige bestaan op luisteryke wyse met ‘n vlotoptog gevier en is ‘n klein monument by die hoofingang onthul.

 

Vandag is ons taal van onderrig Afrikaans en leef PHS sy tradisie na byna 170 jaar steeds met trots uit.